Voertsek!

Die konvooi van twaalf stuks bloulig-BMW’s wat Zastronstraat in Bloemfontein tydens die Malgang konferensie geterroriseer het, is nogal simbolies van Zuma se stoomrolleraksie op pad na nog ’n termyn as eerste ontvanger….ek bedoel…minister.

Die konvooi, met die mees kultuurgebonde Zoeloe wat ooit westers probeer wees het wat daarin, tussen ses tot agt 140kg lyfwagte ingesardien gesit het, het blykbaar sowat 12 duiwe, 4 babahondjies, ‘n vlieër, drie oumas met looprame, 1 jong sokkerspelertjie en ‘n bedreigde spesie pikkewyn in ‘n nuwe dimensie in gery. (slagofferidentiteite en getalle is onbevestig en mag selfs ‘n produk wees van die skrywer se verbeelding). Die interessante ding is dat die konvooi oppad was na die Phillip Sanders-oord, die plek waar die kokkedore hul etes, en waarskynlik hul vloeibare versterkings, geniet. Dit is wat dit so simbolies maak!

Zoemkop se voortstorm met sy konvooi na die verorberingsorgie van sestig vlakvarkspitte en ‘n Jo-Jo tenk vol tuisgebroude bier met batterysuur vir die ekstra skop, is tekenend van sy opmars vanaf die paleis in Nkandla, na die Malgang oorwinning na die presidensie (met ‘n vinnige stop by elke lokasie langs die pad om te kyk na ekstra huweliksmoontlikhede). Dit is wel effe onregverdig dat Zuma kon wen by Malgang bloot deur al sy vroue en kinders vir hom te laat stem, maar hy sal dit toeskryf aan goeie gesinsbeplanning.

Met ou Cyril nou in die middel van die hele spulletjie is daar ook rugsteunfinansiering vir alle ekstra projekkies, aangesien hy vir Phosa en die Willewalvis die haakskene gewys het by Malgang. Nou storm Zuma en sy span voort na die presidentsverkiesing, ‘n verwoeste strook halfgeëte braaimielies, stukkende looprame, pap sokkerballe, vere en ander slagoffers wat agter hulle lê en die land sidder!

As Zuma Malgang kan wen sal Tante Heleen baie watersteweldanse moet doen en baie t-hemde moet uitdeel om hond haaraf te maak in 2014. Nietemin verskaf die ANC leiers ten minste hope stof aan spotprentkunstenaars en rubriekskrywers, al is dit al wat hulle doen en dit teen ‘n geweldige prys!

Tot volgende slag

Die Sweep