Twee senior lede van die FVP geskors

In ’n persverklaring maak die Uitvoerende Partyraad van die Federale Vryheidsparty bekend dat twee van sy lede geskors is.

Die twee lede, die President Hein Boonzaaier en Operasionele Bestuurder Johan Prinsloo is albei geskors weens hul betrokkenheid by die klaarblyklike plan om die leiers van die ANC uit te wis tydens hul konferensie in Bloemfontein.

Vier mans is in hegtenis geneem, waarvan twee prominente lede van die FVP se bestuur is. Hulle het reeds in die hof verskyn op aanklag van hoogverraad.

Die party het by monde van sy sekretaris, Francois Cloete, bevestig dat die twee lede geskors is maar dat hulle onskuldig bly tot hulle skuldig bevind is.

Intussen sal ’n waarnemende president aangewys word.