Tenoor Le Roux maak opgang


Die 29-jarige Suid-Afrikaanse tenoor,Jacques le Roux, tans verbonde aan die Linzoperahuis in Oostenryk tree op 26 Desember op tydens die bel canto-gala ter geleentheid van die amptelike opening van die nuwe Festspielhaus in Erl.

Hy sal op 30 Desember in dieselfde operahuis gehoor word in die tenoorrol van Rossini se Petite Messe Solonelle. Op die podium sal die dirigent Gustav Kuhn wees.

Le Roux is in Colenso gebore en het sang onder Werner Nel studeer. In 2006 is ‘n spesiale prys aan hom toegeken in die Unisa Internasionale Sangkompetisie. Na suksesvolle optredes in sy vaderland gaan hy oorsee na Nederland waar hy as Pedrillo in “Die Ontvoering uit die Harem” van Mozart as ‘n huiskunstenaar in Enschede by die Nasionale Reisopera debutteer.

Sedert die 2010/11 operaseisoen is hy ‘n permanente ensemblelid van die Landestheater Linz in Oostenryk. Hoewel hy naam in die liriese rolle gemaak het, is hy ook gekontrakteer om volgende jaar die hoofrol in Rigoletto te sing.