Swede se wrewel teen die Euro skiet die hoogte in.


Soos wat die Eurosone sukkel om kop bo water te hou in die skuldkrisis wat dreig om sekere lande in te sluk, en die Europese Unie poog om sy nate bymekaar te hou deur meer integrasie aan te kondig,(wat neerkom op regering deur selfaangestelde trans-nasionale eurokrate), bedink die Swede hulle situasie m.b.t. die euro.

Nog nooit was daar soveel vyandigheid teenoor die euro nie. Swede was ‘n spesiale geval. Dit het lid van die EU in 1995 geword nadat 52.3% van die bevolking in 1994 in ‘n referendum ten gunste daarvan gestem het. Elke land wat lid van die EU word, moet ‘n onderneming teken dat hulle die euro sal aanvaar, hoewel daar nie ‘n sperdatum is nie.

In 2003 het die regering besluit om hierdie aspek aan te spreek en weereens is die bevolking gevra om in ‘n “nie-bindende” referendum hulle mening te gee. Hierdie keer het die mense gerebelleer met 55.9% wat daarteen gestem het. Hulle wou nie soewereiniteit oor hulle geliefde krona opgee nie.

Dit het die eurokrate, regerings, ministers van finansies en staatshoofde geskok. Hulle het ‘n groot les geleer: moenie toelaat dat die burgery besluite neem nie. Dit was dus die laaste keer dat die burgers in die EU toegelaat was om oor deelname aan die euro te stem.

Maar in Swede word die kwessie rondom die euro twee maal per jaar ter tafel gelê deur die Sweedse Statistiese Agentskap wat die mense vra hoe hulle sou stem indien daar nou ‘n referendum rondom die euro gehou sal word.

Die uitslag van die laaste opname wat in November gehou is, het pas verskyn. Die skokkende resultaat is dat 82.3% teen die euro sal stem. Die euro se afwaartse tendens in populariteit het ‘n nuwe laagtepunt bereik.

Histories het die nee-stem elke keer die ja-stem gewen. Die uitsondering was driemaal tydens moeilike finansiële tye in 2009. Maar in 2010 het die ekonomie herstel, die begrotingstekort het verminder en nou in 2012 is dit byna uitgewis. Sprake van vermindering in belasting is gehoor. Intussen het die skulkdkrisis en sy maat bekrimping wyd versprei. Dit het lande soos Griekeland, Spanje, Portugal en Italië geknak; ekonomiese groei in ander Eueosone lande gekniehalter en het selfs aan Duitsland begin knaag.

Die gewildheid van EU-lidmaatskap is ook besig om te daal. Die skuldkrisis wat skynbaar geen oplossing het nie en slegs die armste gedeeltes van die bevolkings bly teiken en ondemokratiese finansiële hulp aan privaat banke met belastingbetalersgeld het uiteindelik ‘n impak gehad. Nie net die lidmaatskap nie maar ook die euro word verag.

Hierdie negatiwiteit is nie slegs tot Swede beperk nie. Oral druk die mense hulle woede uit in protesoptogte. Die probleme vir die euro en die EU het waarskynlik pas begin.