Sunette aangekla by Menseregte Kommissie


Die uitgesproke Sunette Bridges het aan die Menseregtekommissie erken dat sy FW de Klerk “ ’n vark” genoem het.
Sy het ook erken dat sy gesê het sy weier om elke dag in Mandela se gevreet vas te kyk op die geldnote.

Sy het ook erken dat sy gesê het pres. Jacob Zuma het nie al sy varkies op hok nie.

Dié erkennings het sy gemaak nadat die Kommissie ’n klag van menseregteskending teen haar ontvang het. Die klaer is Carina Papenfus.

Papenfus sê dat Bridges ook die k-woord, “groenies” en “gemors” gebruik om na gekleurde mense te wys.

Bridges ontken in haar antwoord aan die MRK dat sy die k-woord gebruik het.
Sy het na De Klerk verwys as “pienk Frikkie” en “vark” omdat hy “my mense se regs- en morele reg op selfbeskikking vernietig het”.

Oor Mandela sê sy: “Ek val nie vir die massa-media veldtog in Suid-Afrika waarin hy tot satwordens toe as ’n tipe heilige uitgebeeld word nie”.
In haar antwoord aan die Kommissie het sy ook verklaar “Vir my en baie ander Suid-Afrikaners is Mandela niks anders nie as ’n leiersfiguur van die organisasie wat brute, siek geweld teen weerlose mense van alle rasse” verkondig en uitgevoer het. “Ja, ek wil nie gedwing word om in illustrasies van sy gesig vas te kyk nie.”

Iemand wat nie al sy varkies op hok het nie, tree irrasioneel op – “en dis presies wat ek van Zuma se politieke dade dink”.