Slovenië opdatering.

Die burgemeester van Maribor, Franc Kangler, het onder druk van die protesterende massa geswig en sy bedanking aangekondig.

Kangler het nie sonder ‘n woordegeveg toegegee nie. “Ek hoop dat diegene in die agterhoede wat agter die internet skuil ook ander oplossings vir Maribor se probleme het. Dit is maklik om mense op te sweep maar moeilik om verantwoordelikheid te neem,” het hy gesê.

Hy het voorts gesê dat hy besluit het om aan die mense van Maribor sy Nuwejaar Groete oor te dra met sy bedanking op 31 Desember vanjaar.

Die groepe op die internet wat die protes aangevuur het, het egter gesê dat sy bedanking net die begin is en dat die druk volgehou moet word. Die volgende groot betoë is vir 14 en 21 Desember gereël.
Volgens die mense is Kangler net een probleem en nie dié probleem nie. Hulle meen dat alle politici bedrieërs is en dat net een se bedanking nie veel gaan verander nie. Kangler is veral uitgesonder omdat hy infrastruktuur en ander bates aan sy vriende “geprivatiseer” het.
Die betogings in Sloweense stede het wel ‘n bietjie in getal afgeneem, maar daar is tog ‘n boodskap na buite gestuur, nl: die straat kan ‘n politikus laat val.