Selfoon verklap vier “regses” se planne


Die sogenaamde regse samesweerders wat in hegtenis geneem is en van terrorisme en hoogverraad aangekla word, het in selfoon-teksboodskappe gespog oor hulle wapentuig.

Hulle het volgens die boodskappe reeds 54 aanvalsgewere gehad.

Mark Trollip, Johan Prinsloo, Hein Boonzaaier en Martin Keevy is al vier aangekla van hoogverraad. Hulle sou na bewering die ANC-konferensie met mortiere opblaas.

Gerugte doen die rondte dat beplanning reeds in Januarie gedoen is. Hulle plan moes glo verander word omdat hulle nie die mortiere in die hande kon kry nie.

’n Agent het die regse groep geïnfiltreer en alles gemoniteer. Die SMS inligting is onderskep en vorm deel van die saak teen die vier mans. In sekere SMS boodskappe is genoem dat hulle op die punt is om 120mm-mortiere en 155 mm-ammunisie te bekom wat onder meer deur die G5-kanon gebruik word.

Boonzaaier en Muller was onderskeidelik die president en bestuurslid van die Federale Vryheidsparty, ’n geregistreerde politieke party. Die beplande aanval is onder die vaandel van die Boere-beskermingsforum gedoen.

’n Beweerde vyand van Prinsloo, ene Johan Lubbe, het glo voor die Mangaung-konferensie op ’n webblad geskryf Prinsloo beplan “aanvalle op die imperial regime”.

Shaun Abrahams, ’n staatsaanklaer het tydens die beskuldigdes se verskyning gesê daar is besliste bewyse dat hulle met mekaar gekommunikeer en terreuraanvalle in Bloemfontein beplan het.