Ooo .. Koekemakranka!!!

Dis mos ’n uitdrukking wat ons nogal dikwels hoor, veral wanneer daar so ’n klein foutjie ingesluip het in ons doen en late! Wel hier is hy en wat ’n oulike interessante plant. Miskien ken van ons ouer mense hierdie plant en sy vrug. Vir ons jonger geslagte is dit heeltemal onbekend en die meeste van ons het gewonder waar die uitdrukking vandaan kom.

Die Koekemakranka (Genthyllis) is ’n bolplant wat oor die algemeen in die Sandveld van die Kaapprovinsie, voorkom. Hy kom eintlik voor in die winter reënvalstreke. Daar word beweer dat hy sy naam van die Koisan gekry het, wat verskeie gebruike vir die plant en sy vrug gehad het. Aangeheg is ook ‘n foto van die plant met sy vrug en ook die blom wat direk uit die grond voorkom.

Teen Kersfeestyd groei daar klein wit of ligpienk blomme uit die grond met geen blare nie. Die blomme word dan bestuif en kwyn weg en geen teken word nagelaat van hulle nie. Na die eerste reën groei daar lang, dun, spiraalagtige blare en ’n vrug wat soos ’n klein piesang lyk, uit die grond. Die blare is grys/groen van kleur. Dan verskyn die romerige/wit vrug. Hierdie vrug ruik soos aarbeie. Die ryp vrugte, met die uitsonderlike aroma word soms gebruik in bottels brandewyn vir ekstra geur en smaak. Die vrugte word ook gebruik in lugverfrissers en ook om net so in kamers of linnekaste te stoor vir die lekkerruik van die linne en handdoeke. Die Koisan gebruik die vrugte vir maag-krampe en ook parfuum.

Wel, daar het ons dit nou, raar maar waar!
Tuingroete tot volgende keer