Ons ou vet vriend


Het mense al ooit oorweeg hoe hulle hul eie geloofwaardigheid by hul kinders aantas? Laat jou hamstertjie bietjie sy wieletjie draai oor die saak.

Jy as ouer kom vertel vir jou seuntjie van ‘n oupa met ‘n spierwit baard wat so oorgewig is van al die koekies en melk wat hy op een dag by elke huis in die wêreld eet, dat hy sy stewels aan die binnekant van sy enkels moet vasmaak (ja, vet mense doen dit, kyk maar waar sit hul vetersrikkies!). Dat so pokkel kan bestaan is nie vergesog nie, dit kan selfs jou oupa wees, maar dan kom vertel jy jou kindjie dat daardie oupa al die kinders in die wêreld se kersgeskenkies aflaai terwyl die herinnering vars in sy kop vassit van sy eie, heelwat maerder, oupa wat die anderdag so lui was om by die kafee in te stap dat hy sy 5jarige kleinseun ingestuur het om sigarette te koop terwyl hy in die motor sit en vir die tilslaner die duim wys!

Verder vertel jy die seun dat hierdie oupa met sy groot rooi jas in Suid-Afrika ook draai maak met ‘n vlieënde slee deur rendiere getrek en weereens maak ‘n paar dinge nie sin nie. Die anderdag toe Boetie met die sambreel van die dak af wou spring, het jy gesê hy moet asseblief nie, want dit sal nie werk nie, maar nou vertel jy dat rendiere ‘n 140kg man met geskenke die lug kan inkry! Die ander gedagte wat in Boetie se kop maal is hoekom ek geskenke kan aanvaar van ‘n oorgewig oupa wat seniel genoeg is om ‘n rooi woljas te dra in Desember in Springbok, maar nie van die gawe oom met die effense druipoog en die kwyl in sy mondhoeke wat soms by die kleuterskool opdaag en sê dat hy een van die kinders se peetpa is nie?

Om alles op te som tuimel jou hele storie inmekaar soos ‘n huis van kaarte in die Parkinsons tehuis as jy by die winkelsentrum kom en nie vir jou seuntjie kan uitwys watter een van die vet omies nou juis die werklike kersvader is nie!

Miskien moet ons maar hou by die geboortegeskiedenis van ons Verlosser en vir die kinders sê dat die geskenkies van Mamma en Pappa af kom. Hulle sal jou woord dan makliker aanvaar as jy eendag moet verduidelik hoekom sy hamster so lank slaap na die liefdevolle drukkie wat hy hom gegee het.

‘n Geseënde Christusfees tot volgende slag

Die Sweep