Nuusflitse

• Neem kennis dat, alhoewel Oranjekas se kantore sluit vanaf 18 Desember 2012 tot 2 Januarie 2013, u nog steeds soos gewoonlik telefonies met u banksake kan voortgaan deur die onderstaande telefoonnommer te skakel. U maandelikse reëlings gaan ook voort soos gewoonlik. Oranjekas 0792051155
• Pretoria se hooggeregshof het Donderdag beslis dat die omstrede e-tolstelsel wel sal voortgaan. Die Outa-organisasie het onlangs die hof gevra om ‘n besluit van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) om sekere snelweë in Gauteng as tolpaaie te verklaar, te hersien en ongeldig te verklaar. Die hof het verlede Donderdag dié aansoek van die hand gewys.
• Die ANC Jeugliga gaan resolusies voorstel vir die nasionalisering van sekere minerale en metale asook strategiese maatskappye tydens die ANC se nasionale konferensie in Mangaung. Hulle sal voorstel dat die volgende minerale genasionaliseer word: ystererts, mangaan, die platinum-groepmetale, vanadium, magnesium, steenkool en sink.
• Naledi Pandor, Minister van Binnelandse Sake, het gesê daar moet dadelik ’n plan gemaak word om ’n drie maande oue seuntjie van Komatipoort te registreer.
• Die dodetal van die sterkste tifoon wat die Filippyne vanjaar getref het, staan op 1,000 en kan steeds skerp styg, het die regering gesê.
• Die geskorste Julius Malema en die geskorste sekretaris-generaal Sindiso Magaga, het die ANC se nasionale kongres gevra om die besluit deur die party se dissiplinêre komitee omvêr te werp en hulle in hul onderskeie posisies te herstel.
• Tydens die grondgryp-debat het Zuma die konferensie gemaan dat die regering nie sy teiken van 30% grondoordrag aan swart eienaars teen 2014 sal haal nie, en dat enige plan om grondhervorming te versnel binne die huidige wette moet plaasvind.
• Apple Inc. het in die eerste drie dae ná die bekendstelling van die iPhone 5 meer as twee miljoen van dié toestelle in China verkoop. Tim Cook, hoof- uitvoerende beampte van Apple, het gesê die verkope het ‘n nuwe rekord in China opgestel.
• Vyf mense het in Nelspruit doodgebrand toe die taxi waarin hulle gereis het teen ‘n boom gebots en aan die brand geslaan het. Die bestuurder het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor. Drie vroue en twee kinders is dood en nege ander mense is beseer.
• ’n Werknemer van G4S se private Mangaung-maksimumgevangenis het na bewering vuurwapens verskaf aan twee geharde misdadigers wat glo ’n dokter in dié tronk gyselaar gehou het. Thobile Gwita, wat in die tronk se sweisafdeling werk, moet nou saam met die rower Sibusiso Nkosi en die verkragter Abraham Mabe teregstaan weens die onlangse gyselaarsdrama waarin dr. Serame Mogoera sowat 21 uur aangehou is.
• ‘n Polisiereservis is in hegtenis geneem nadat hy glo sy vuurwapen aan misdadigers verhuur het. Dié vuurwapen is na bewering gebruik in inbrake en gewapende rooftogte in die Vaal-gebied. Die South African Public Service Union (SAPSU) in die PWV het gesê hy is teleurgesteld oor die voorval.
• Die ANC het grond gekry waar hy ‘n politieke skool wil bou, het Gwede Mantashe, hoofsekretaris van die party, gesê. “Ons het ‘n plaas vir die politieke skool,” het Mantashe in sy organisatoriese verslag op die party se nasionale konferensie in Mangaung gesê. Die bouwerk is weens befondsing, wat nog altyd ‘n uitdaging was vir die ANC, vertraag.”
• Vier mans is van hoogverraad aangekla vir ‘n beweerde komplot om tente by die ANC se nasionale kongres op te blaas en president Jacob Zuma en ander top-amptenare tereg te stel. Die vier verdagtes, Mark Trollip, John Martin Keevy, Johan Hendrick Prinsloo en Hein Boonzaaier, is deur sekuriteitswagte met aanvalsgewere na die landdroshof in Bloemfontein begelei. Die staatsaanklaer, Shaun Abrahams, het gesê die mans wou ‘n onafhanklike Boerestaat stig en hulle het ‘n aanval op die ANC se verkiesingskonferensie, wat tans in die stad onderweg is, beplan.