Nuusflitse

• Ses mense, wat die Oos-Londen munisipaliteit in die Oos-Kaap met R11,8 miljoen bedrieg het, is deur die polisie in hegtenis geneem. Die Valke het drie mense in Mthatha in hegtenis geneem en nog drie in Oos-Londen. Een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, is steeds by die munisipaliteit werksaam.

• In die noorde van Thailand is 20 olifante besig om te help om van die wêreld se duurste koffie te vervaardig. Die eksotiese koffie word gemaak van koffiebone wat deur die olifante geëet word en dan ‘n dag later uit hul mis gehaal word om die koffie te brou. Dié koffie sal jou sowat R10,000-00 per kg uit die sak jaag of R450-00 vir ’n beker heerlike “koffie”.

• Sowat 13 000 voornemende studente wat hul studies by die Universiteit van die Vrystaat wil voortsit, kan nie geakkommodeer word nie volgens Lacea Loader, die universiteit se woordvoerder. Slegs 5,000 van die 18 000 van die aansoekers kan akkommodeer word.

• Die verpleegster wat die poets-oproep deurgeskakel het van twee Australiese radio-omroepers wat wou uitvind hoe dit met die swanger hertogin van Cambridge gaan, het vermoedelik selfmoord pleeg..

• Dertien mense het gesterf toe ‘n brug op die R65 tussen Ermelo en Lothair weens swaar reënbuie meegegee het. Drie voertuie het teen die gebreekte brug gebots. Die woordvoerder sê motoriste moet die R33, N17 en die Ermelo/Mpuluzi-pad gebruik, omdat die R65 onbepaald gesluit is.

• Reddingswerkers het begin hoop verloor om die sowat 900 vermiste mense op te spoor nadat tifoon Bopha verlede week die Filippyne getref het.

• Sektore van die samelewing probeer die uitkoms van die ANC se nasionale konferensie manipuleer, het Gwede Mantashe gesê. Hy het kommentaar gelewer op berigte dat geloofsleiers ‘n brief aan pres. Jacob Zuma geskryf het, waarin hulle waarsku dat die publiek bekommerd is dat Suid-Afrika sy morele kompas verloor het.

• Die Siriese Waarnemers vir Menseregte het gesê die Sheik Suleiman-weermagbasis naby Allepo is Dinsdag deur die rebelle oorgeneem. Die rebelle het glo die basis vir die eerste keer op Sondag ingeval. Behalwe vir die 35 soldate wat doodgemaak is het die rebelle ook 64 soldate gewond en gevangene geneem.

• Die jongste syfers van die Independent Electoral and Boundaries Commission wys dat net 46% van stemgeregtigdes tot dusver geregistreer het. Kiesers moet voor 18 Desember geregistreer wees. Die burgers wil glo nie registreer nie uit vrees vir geweld tydens die verkiesing wat die land in 2007 meer as 1,000 lewens geëis het.

• Terwyl die VSA gereed gemaak het om ‘n onbemande militêre ruimtetuig te lanseer, wonder die wêreld hard wat dié geheimsinnige tuig se doel kan wees. Die geheimsinnige aard van dié militêre program het tot bespiegeling regerings gelei wat meen die tuig kan gebruik word om met satelliete te peuter.