Nuusflitse

• ’n Amptelike verslag toon dat ‘n totaal van 200 metrieke ton koper in Oktober gesteel is en 220 ton in September – 273 ton is in Augustus geroof.
• Die maatskappy Fujitsu het Donderdag in Japan ‘n nuwe slimfoon bekendgestel wat gebruikers se veltoestand monitor deur na letsels en vlekke te soek. Die Hada Memori-foon laat vroue toe om die kleur van hulle vel te monitor, en hou ook enige ander veranderings op die vel dop.
• Die Dalai Lama sal binnekort ‘n uitnodiging ontvang om Suid-Afrika te besoek, het Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP gesê na die Appèlhof se uitspraak dat die regering onwettig opgetree het deur Lama se visum te vertraag.
• Twee mans is by ‘n hotel in Oos-Londen in hegtenis geneem nadat hulle glo probeer het om goud ter waarde van R650 000 aan polisiebeamptes te verkoop, het ’n polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap gesê.
• Die meerderheid Amerikaners en Kanadese wil hê dat dagga gewettig moet word en sê dit moet vryelik beskikbaar wees vir diegene wat dit wil gebruik, het ‘n meningspeiling Donderdag getoon. Die peiling deur ’n navorsingsmaatskappy, waarin 2 007 mense ondervra is, het getoon dat 57% van Kanadese en 54% van Amerikaners die wettiging van dagga ondersteun.
• Tien gewapende mans het ‘n kitsbank in Heidedal, Bloemfontein, beroof en met ‘n onbekende bedrag geld weggekom. Die polisie sê die mans was met outomatiese gewere gewapen en het op die polisie geskiet toe hulle die toneel genader het.
• In Stamford het ‘n vrou wat blind is en albei haar hande verloor het ná sy deur ‘n sjimpansee aangeval is, besluit om vir $4 miljoen (sowat R35 miljoen) met die dier se eienaar te skik. Die vrou moes ná die aanval ‘n gesigsoorplanting kry.
• Die Lengau-hotel in Bloemfontein is Vrydagoggend deur ‘n bende gewapende rowers beroof, het die Vrystaatse polisie gesê. Polisie het gesê vyf mans met klapmusse het die hotel deur middel van die kelderdeur binnegekom. Drie verdagtes het vuurwapens gehad en die ander was met messe gewapen. Hulle het drie sekuritietsbeamptes en ‘n kassiere aangehou, en met ’n onbekende bedrag geld gevlug sonder om ’n skoot te skiet.
• ‘n Klein, pratende robot sal volgende jaar die ruimte in gestuur word om ‘n Japannese ruimtevaarder geselskap te hou tydens ‘n ses maande lange sending. Die miniatuur robot sal ‘n paar maande voor die ruimtevaarder Koichi Wakata by die internasionale ruimtestasie aankom, het die Kibo Robot Project gesê. Die robot is sowat 34 cm lank en weeg een kilogram.
• Die Valke het ‘n klopjag op twee bordele aan die Oos-Rand uitgevoer. ’n Woordvoerder het gesê die klopjagte het Vrydag plaasgevind en 23 mense is in hegtenis geneem. R31 000 kontant is gekonfiskeer en sewe buitelanders is in die eerste klopjag in hegtenis geneem.
• n Polisiebeampte van Alexandra in Johannesburg is in hegtenis geneem nadat hy glo R10 000 omkoopgeld ontvang het om ‘n dossier te vernietig. Die 42-jarige beampte wat in die dossierstoor gewerk het, het die omkoopgeld aanvaar van ‘n verdagte wat van huis roof en voertuigkaping beskuldig word.
• “Fezi” Ngubentombi, die Vrystaat se LUR vir Gesondheid, en ‘n lyfwag het in ‘n motorongeluk op die N1 buite Bloemfontein gesterf, het die Vrystaatse regering bevestig.
• Berig is ontvang dat die jongste weergawe van die klagstaat teen Malema daarop dui dat hy teregstaan op sowat 50 aanklagte van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery. Die saak is tot 23 April uitgestel.
• Die Departement van Justisie wil nuwe wetgewing in plek stel omdat mensehandel besig is om al hoe meer algemeen in Suid-Afrika te word. Kamogelo Makubu-Wildred van die Departement sê dié aktiwiteite floreer in die meeste dele van die land omdat daar nie gepaste wette is nie.
• Die polisie in Noord-Transvaal het twee mans wat glo saamgesweer het om ‘n renoster in die Krugerwildtuin te skiet in hegtenis geneem. Kol. Ronel Otto, die polisiewoordvoerder, het gesê die twee mans het ‘n wildbewaarder van die wildtuin onlangs gevra om hulle te help om ‘n renoster te skiet. Die wildbewaarder het die polisie laat weet en ’n lokval is opgestel. Die polisie het ook op hul motor beslag gelê.