Noord-Transvaal steeds sonder skoolboeke

Die gemors met aflewering van skool handboeke in Noord-Transvaal duur voort.

Verskeie skole het gister, nog nie al hul boeke vir volgende jaar gekry nie.

Talle skole wag nog op handboeke én skryfbehoeftes. Die uitspraak en bevel van die Hooggeregshof word skynbaar geïgnoreer deur die Minister van Onderwys in dié provinsie.

Ingevolge die hofbevel moet die boeke voor 15 Desember afgelewer wees by al die skole in die provinsie.

In Pietersburg staan ’n groot stoor vol gepak met skoolboeke wat afgelewer moet word.

Willie Schoeman, hoof van die Hoërskool Pietersburg, sê sy skool kort nog minstens 550 handboeke..

Hy het ook gesê daar is probleme met boeke vir die nuwe kurrikulum wat volgende jaar vir graad 4 tot 6 ingefaseer word, asook vir graad 11.

In graad 10 het die skool die platinum-reeks vir Engels gekry, terwyl ’n ander reeks vir volgende jaar se gr. 11’s afgelewer is. Die werk volg nie opmekaar nie en veroorsaak ’n gemors.

By die Hoërskool Noorderland in Pietersburg word soortgelyke probleme ondervind met boeke wat nie afgelewer word nie, en ander wat verkeerdelik afgelewer word.

Die Engelse skool, Alf Makaleng Primary School in Pietersburg het 110 handboeke in wiskunde en lewensoriëntering vir gr. 4 gekry. Geen ander handboek is vir die 1 280 leerlinge afgelewer nie.

’n Afgetrede skoolinspekteur het aan Die Vryburger gesê dat dit duidelik is die aflewering van skoolboeke word deur onkundige mense gedoen.

Daar is duidelik geen sin vir verantwoordelike bestuur nie en die leerlinge ly daaronder, het hy gesê.