Natalse rivier in vloed veroorsaak chaos

Die oorstromende Amanzimtoti-rivier is glo die oorsaak dat ‘n trein Dinsdagoggend in die riverbedding ingerol het. Die vloedwater van hierdie rivier naby Durban het glo grond onder die spoorlyn weggespoel en dit het veroorsaak dat die trein ontspoor is. Vier mense is in hierdie geval beseer.

Verder moes reddingswerkers ‘n groep van nege haweloses wat ook deur die oorstromende rivier vasgekeer is red. Hulle het onder Clairwood se M4 brug oornag toe hulle ongeveer 4:00 wakker skrik en uitvind dat hulle deur die water vasgekeer word. Die brandweer, paramedici en die reddingseenheid het hulle een vir een vanaf die brug met toue opgehys na veiligheid.

Intussen is nog ‘n groep mense op ‘n eiland gestrand in die Umzinto Rivier net suid van Durban. Die Nasionale Seereddingsinstituut sukkel al vanaf Maandagnag om by hierdie vier mense uit te kom aangesien ontstuimige toestande dit net nie toegelaat het nie. Die polisie het vroeg vanoggend met ‘n helikopter probeer om by die gestrandes uit te kom maar weersomstandighede maak die poging nog baie moeilik. Hulle word tans vermis.