‘n Kersgeskenkie – nie vir hierdie Kersfees nie.

“Die wêreld se tegnologies-meesgevorderde private vliegtuig.” Dit is die mening van kenners – dit is die Volta Volaré GT4.

Alhoewel hierdie aanspraak na grootpraat klink, is die vervaardigers van hierdie Volta Volaré GT4 hibride elektriese vliegtuig van mening dat geen ander private vliegtuig by hulle tegnologie kan kersvashou nie.

Hierdie ligte passasiersvliegtuig maak gebruik van, wat hulle noem ? “EViation Drive”, elektriese aandrywing wat deur ‘n gas-enjin bygestaan word, sodra die batteryvlak onder 25% van die kapasiteit daal. In die lug spog hierdie viersitplek met ‘n togsnelheid van 160 knope (296 km/u of 184 mpu), ‘n vlieghoogte van 24 000 vt en ‘n vlugafstand van 1 000 seemyl (1 852 km of 1 150 myl).

Die hibride-tegnologie is egter nie die enigste aanspraak waarmee die vervaardigers spog nie. Die Volta se indrukwekkende rompontwerp, wat alhoewel dit die indruk van metaal skep, eintlik van handgevormde koolstof-vesel vervaardig is, sou wetenskaps-fiksie skrywers al sedert die 1950’s kon laat kwyl. Die instrumentpaneel spog ook met 21ste Eeuse tegnologie, soos aanraakskerm-glas (touchscreen) en ‘n opsionele HUD of Deursigtige Ooghoogte Instrument Vertoonskerm (Head Up Display).

As jy moeg is vir die afskeep sitplek- of kajuitspasie van die goedkoop lugrederye sal jy amper R5 milj. of 495 000 Amerikaanse Dollar moet uithaal vir die GT4. En as die konserwatiewe afwerking te eentonig vir jou is, kan jy vir Brabus – die Duitse motorkar ombouingspesialiste – om hulp vra, hulle het vanjaar aangekondig dat hulle nou ook ‘n vliegtuig ombouingsafdeling geskep het, wat private vliegtuie kan omskep met doelgemaakte spesifikasies. (So Pimp gerus jou vliegtuig om by jou Harley Davidson te pas).