Motor rubriek – Veteraan motors – (vervolg)


Belangrike onderdele van die ewenaar van ’n agterwiel aangedrewe motor is die olieseëls. Daar is ’n olieseël aan die wielkant van elke sy-as. Dit word binne-in die ewenaar omhulsel gepas en verhoed dat olie lek en die remme beskadig.

Dit word aanbeveel dat die olieseël aan elke kant vervang word. Veral in die geval waar ’n voertuig ’n aantal jare gestaan het. Die rede is dat die seël gedeelte van ’n rubber samestelling vervaardig is en met die jare is dit geneig om te verhard en het dan nie meer seël eienskappe nie.

Aan die voorkant van die middel deel van die ewenaar is ook ’n olieseël gepas. Hierdie seël is geneig om ook te lek wanneer die voertuig vir ’n aantal jare nie in gebruik was nie. Wanneer hierdie seël vervang word moet dit met groot sorg gedoen word. Dit word aanbeveel dat dit deur ’n spesialis gedoen word.

Indien dit deur uself gedoen word, moet daar pons merke op die moer, die flenskoppeling en die middel-as aangebring word. Die rede daarvoor is dat die ratte binne-in die ewenaar op geringe druktoleransies opmekaar werk en indien hierdie toleransies versteur word kan dit slytasie op die ratte veroorsaak wat dan geraas tot gevolg kan hê en dit kan ook lei tot beskadiging van die ratte.

Die flenskoppeling moet verwyder word om die olieseël te vervang. Wanneer die olieseël vervang is en die flenskoppeling is weer gepas, moet sorg gedra word dat die moer so vas gedraai word dat die merke wat op die flenskoppeling, die moer en die middel-as, ooreenstem. Deur dit op hierdie manier te doen verseker u die korrekte druk op die ratte in die ewenaar toegepas word en onnodige slytasie word beperk.

Aanstaande week word die ewenaar van ’n voorwiel aangedrewe voertuig bespreek