Motor rubriek – Veteraan motors – Vervolg

Daar is nou reeds vêr gevorder met die herstelwerk aan die binnekant van die Veteraan motor.

Volgende aan die beurt is die instrumentpaneel. Van die ouer motors se instrumentpanele was van metaal vervaardig en is gewoonlik dieselfde kleur geverf as die buitekant van die motor. Ten einde te verseker dat die instrumente nie beskadig word nie, moet die instrumente verwyder word. Wanneer u dit doen word aanbeveel dat u die drade merk ten einde te verseker dat wanneer dit terug geplaas word, die bedrading nie foutief gekoppel sal word nie. Maskeerband kan gebruik word asook verskillende kleure verf. Die verf kan met ’n klein verf kwassie op die draad en die instrument aangebring word.

Nadat die instrumente verwyder is, kan dieselfde voorbereiding gedoen word as wat gedoen was toe die motor aan die buitekant geverf is. Sorg moet egter gedra word dat behoorlike bedekking in die onmiddellike omgewing van die instrumentpaneel aangebring is ten einde te verseker dat die bekleedsel nie met verf beskadig word nie. Dit word aanbeveel dat wanneer u die verfwerk aan die binnekant van die motor doen, u dit met klein spuitverf toerusting doen.

Indien die instrumentpaneel met viniel bedek is en dit is deur die son beskadig, kan die viniel vervang of herstel word. Die herstel proses is egter ’n spesialisveld op sy eie en dit kan deur ’n spesialis op die gebied gedoen word.

Die herstelwerk aan die binneruim van die motor nader nou sy einde.