Misverstand in die Maldives

Nuwejaarsaand sal ek en my man 14 jaar getroud wees en dit laat my terug dink aan ons wittebrood in die Maldives.

Dit was die eerste keer wat ek ooit op ‘n vliegtuig Suid-Afrika verlaat en dit na ‘n Moslem land. My senuwees was so half gedaan, maar daar was ook die uiterste opgewondenheid. Na ‘n 8 uur vlug oornag land ons in die paradys. Die plek is poskaart mooi en onaangetas deur nuwerwetsheid.

Ons geniet onsself gate uit met diepsee duik, die mooiste sonsondergange en heerlike drankies onder sambreeltjies. Die restaurant in die oord waarin ons bly is op die strand.

My man hou verskriklik van ‘n soetigheidjie gedurende ontbyt en een oggend gedurende die buffet ontbyt sit ek en uitkyk oor die platste see wat ek nog ooit gesien het. Terwyl ek so sit en dagdroom, kom daar toe twee pragtige, langbeen blonde meisies in bikinis verby gestap.

Ek verstaar my omtrent en met die dat hul daar verby stap se my man: “Ek gaan gou vir my ‘n Deense tertjie optel.”

Ek is onmiddellik woedend, want ons is dan op ons wittebrood en ek skree vir hom:
“Hoe weet jy hulle is Deens!”

Hy het natuurlik nie eens in die rigting van die meisies gekyk nie en het net bedoel dat hy die soet Deense pasteitjie gaan haal om te eet!