Kanadese Samaritaan gee vroeë Kersfees

‘n Normale weeklikse inkopie tog het uitgedraai in ‘n les van goedgesindheid in Hamilton Ontario vroeër hierdie week. ‘n Barmhartige Samaritaan wat verkies het om naamloos te bly, het $485 spandeer aan twee trollies vol kruideniersware vir Homestead Christian Care, ‘n tehuis vir gestremdes, nadat hy die oorlaaide kruideniersware trollies voor hom in die ry gesien het. ‘n Werknemer van die organisasie, Tineke Vanderhoeven wat die inkopies gaan doen het, het gesê: “Hy het gevra of ons vir liefdadigheid is. Ek is gewoond om gevra te word waarom ek so baie koop, dan vertel ek maar wat ek werk en doen.”

Nadat sy vir hom gesê het hulle is ‘n nie-winsgewende organisasie het hy onmiddellik vir die kruideniersware betaal. Die kruideniersware is voldoende vir ‘n week vir 25 mense. Toe hy klaar betaal het, het Tineke vir hom ‘n drukkie gegee en hy het net weer in die ry gaan staan asof niks gebeur het nie. Kersfees het vroeg gekom vir die tehuis en dit verwarm mens se hart dat daar steeds goedgesindheid in die wereld bestaan.