Hospitaal personeel weier hulp aan pasiënt

‘Maak jou eie gemors skoon.” Is die woorde wat verpleegpersoneel ’n baie siek pasiënt toesnou in haar uur van uiterste nood.

Dit is die behandeling wat ’n vrou in die Pretoria-Wes-hospitaal gekry het omdat sy beheer oor haar blaas verloor het.

Olive van der Merwe (64) se familie sê sy was later vreesbevange om weens haar mediese toestand hospitaal toe te gaan omdat die personeel haar so “wreed” behandel het.

Sy is verlede week alleen in haar huis dood. Dié staatshospitaal, waar sy herhaaldelik opgeneem is sedert September, kon nooit daarin slaag om ’n korrekte diagnose te maak nie. Daar word vermoed sy het inwendig gebloei.

Die een keer dat sy wel probeer het om haar self te help, het sy omgeval. Die verpleegsters, wat aangestel is om na siek mense om te sien, het geweier om haar te help.

Sy het vertel dat sy een nag haarself bevuil het en gevra dat verpleegsters haar help. Almal het glo gesit en slaap en gesê die dagpersoneel sal dit doen.

Vyf uur later het ’n skoonmaker glo verbygekom, aan mev. Van der Merwe ’n emmer gegee en gesê sy moet dit self skoonmaak.

Waarnemers is van mening dat die betrokke hospitaal aangekla kan word weens pligsversuim.