Hier is nog ’n onbekende vir ons… Die “Horned Melon” /“Prickly Melon”

Hierdie vrug is regtig onbekend, maar dit is blykbaar heerlik. Dit word ook die kiwano spanspek genoem of die African horned melon. Hy is bekend in Suid en Sentraal Afrika. Nieu Seeland en Kalifornië kweek dit ook nou en dit word ook daarvandaan ingevoer. Die vrug is soet en die smaak is tussen piesang / lemmetjie/ komkommer. Die skil is geel met geel/groen vleis binne en baie pitte. Die pitte laat mens dink aan ons eie spanspek se pitte.

Indien u een kan kry om te koop, sorg dat hy glad nie gekneus is nie. Beskadigde “horings” is ’n teken dat hy gekneus kan wees aan die binnekant weens onverskillige hantering. Dit kan teen kamertemperatuur gestoor word vir tot twee weke, maar as dit ryp is hou dit net 3 tot 4 dae.

Die skil is hard en u sal dit nie afgeskil kry nie. Die beste is om dit oop te sny en die binneste dan uit te skep en so te eet. Die vrugte is heerlik in vrugteslaai en u kan die skil gebruik om die vrugteslaai in te skep vir u gaste. Moet net nie die skil probeer eet nie.

Geniet u somervrugte soos perskes en appelkose wat nou so vrylik beskikbaar is!!!