Hibiskus Struik – die roos van Natal

Hierdie struik met die pragtige blomme, in soveel kleure beskikbaar, is die nasionale blom van Maleisië. Die Hibiskus kom oorspronklik van Oos Asië maar is reeds baie gewilde struike in Suid-Afrika, veral die Suidkus van Natal. Die Suidkus word dan ook die Hibiskus streek genoem, na die plant wat so volop groei in die tropiese klimaat van Natal. Die struike kan erge wind en ook die sout seelug goed weerstaan. Hulle is gevoelig vir ryp en groei nie so welig in kouer klimaat nie.

Plant die Hibiskus waar hy ten minste 6 ure per dag son kry. Hulle kan ook in potte geplant word. Die potte moet ten minste 70 cm. hoog en 50 cm. breed wees. Hulle hou van ryk grond wat goed dreineer, anders kan die wortels verrot. Hierdie struike kry nie maklik siektes nie. Die struike vertoon pragtig rond en bont op ’n grasperk. Hulle kan wel besmet word met rooispinnekop in die middel van die somer. Daarvoor kan u hulle behandel met gifstof wat u by die kwekerye of tuinsentrums sal kry en hul sal u ook kan help met spesifieke gifstof vir spesifieke plae op die plant. Die plant se blare vergeel gewoonlik as daar een of ander siekte of plaag is.

Daar is vandag al soveel verskillende kleure blomme gekweek. Selfs in alle skakerings van pers tot spierwit. Die blomme is groot met lang stele stuifmeel en daar is ook spesies met dubbelblaar blomme wat soos rose vertoon. Die blomme het geen reuk nie maar die suikerbekkies en sommige insekte is baie lief vir die nektar van die Hibiskusblom.

Die blomme het ook nogal ’n paar goeie gebruike soos om dit in water te week en dan te gebruik om u hare af te spoel. Van die spesies word gebruik om die ultravioletstrale van die son te absorbeer.

Die blomme is eetbaar! In die Pasifiese Eilande gebruik hulle dit in slaaie en in Indië om hulle skoene mee blink te maak.

Tuingroete tot volgende keer