Griekeland se gradering verbeter

Griekeland se kredietgradering is deur Standard & Poor’s (S&P) opwaarts aangepas na B-. Dit is goeie nuus vir die Europese Unie se ekonomie, aangesien Griekeland die afgelope maande ‘n remmende effek daarop gehad het. S&P noem dat die beter gradering toegeskryf word aan die bereidwilligheid van die EU om die land te ondersteun in sy krisis, asook sekere maatreëls wat die Griekse regering ingestel het wat begin vrugte afwerp. Dit beteken nog nie dat Griekeland uit die moeilikheid is nie, maar die land beweeg in die regte rigting. Griekeland het die afgelope weke ‘n verdere €34,3 miljard se reddingsfondse ontvang.

Griekeland het ook onlangs ‘n ooreenkoms met sy EU vennote aangegaan om sy skuld tot 124% van sy BBP (Bruto Binnelanse Produk) te verlaag in 2020 en tot 110% in 2022. Die EU het ingewillig om Griekeland tegemoet te kom met verlaagde rente op die reddingslenings, ‘n 10 jaar uitstelling op sommige rentebetalings en uitstellings op die vervaldatums van ‘n groot deel van die skuld.

Volgens ‘n Griekse ekonomiese woordvoerder word daar ook vordering gemaak met die regering se maatreëls om die Grieke, wat ‘n kultuur van nie-belasting betaling het, te dwing om hulle belastingverantwoordelikhede na te kom.