Foutbal!

Die duiwel is behoorlik los in die Nieu-Seeland se krieket span. Hulle het op die vooraand van hulle toer na Suid-Afrika, hulle kaptein, Ross Taylor, van sy kapteinskap onthef. Toegegee, die laaste toetsreeks is wel onder sy leierskap gewen, maar dit was maar ’n treurige affêre voor dit. Taylor het soos ’n stout seuntjie besluit dat hy dan nie beskikbaar is vir die reeks in Suid-Afrika nie. Intussen is daar ’n bekgeveg in die media aan die gang. Die oud-kaptein het die afrigter daarvan beskuldig dat hy lieg. Ons hou in spanning die volgende hoofstuk dop. So terloops, die kaptein vir die S.A. toetsreeks is Brendon McCullum.

Die Blitsbokke het so bietjie aansien herwin, nadat hulle die naweek 3de geëindig het in die toernooi van die Groot Terroris. Hulle het alle teenstand voor hulle plat gevee, voordat hulle in die half-eindstryd teen Nieu-Seeland te staan gekom het. Die bokke het met 5-12 verloor. Hulle kan hulle egter gelukkig ag, omdat ’n duidelike drie deur die Swart truie nie toegeken was nie. Voor die halfeind was dit reeds duidelik dat die wenner in hierdie wedstryd die trofee omhoog sal hou, want in die ander halfeindstryd het Argentinië en die Franse mekaar gepak. Paul Treu se manne het die uitspeelwedstryd vir die derde plek verspot maklik met 35-0 gewen. Die manne van die land van die lang wit wolk het weer geseëvier in die Suid-Afrikaanse been van die toernooi. Hulle het Frankryk met 47-12 verslaan.

Charl Schwartzel verstaan die kuns om ’n klein wit balletjie te moker. Thailand was die naweek glad nie so taai vir hierdie Suid-Afrikaner nie. Charl het die toernooi met ’n allemintige 11 houe gewen. Dit was sy eerste oorwinning in ’n groot toernooi in 20 maande. Hierdie oorwinning het hom ook gehelp om vier plekke op die wêreldranglys te klim. Hy is nou in die 23ste plek.

Suid-Afrikaanse sport verbaas my glad nie meer nie. Krieket Suid-Afrika het pas aangekondig dat hulle vroeg aanstaande jaar ’n swart keurder gaan aanstel. Dis glo ’n poging om die sport “demografies verteenwoordigend” te maak. In eenvoudige Afrikaans beteken dit dat hulle ontevrede is omdat daar te min swart gesiggies in die Blomme se span is. Die tussentydse hoof van KSA wil ons anders laat glo. Hy reken die stap moet nie beskou word as ’n stap wat slegs swart spelers sal baat nie. Die persoon wat na bewering vir hierdie posisie geoormerk is, is die oud Blommetjie, Makaya Ntini. Hy het onlangs juis beweer dat die paaltjie wagter Thami Tsolekile lankal vir die Blomme sou gespeel het as hy wit was. Laat my dink aan ’n skuur muur met die woorde dat alle diere gelyk is….