Familie aangeval deur ses terroriste

“Bid vir liewe Jesus, en bly in die kamer.”

Dit was die woorde van mnr. Roelie van Heerden (61) aan sy drie kleinkinders met die aanval deur ses terroriste op sy plaas Philmore, Bainsvlei net buite Bloemfontein.

Die terroriste het mnr. Van Heerden, sy vrou, hul dogter en haar drie kinders, vroegdag in die plaashuis oorval. Die volwassenes is aan mekaar vasgebind en by die kinders in ’n kamer toegemaak en gedreig om die kinders te skiet.

Die Van Heerden-egpaar is rondgeruk en geslaan, maar genadiglik is nie ernstig beseer nie.

“Ek is gewoonlik paraat, maar het vanoggend drooggemaak. Terwyl ek besig was om die permit uit te skryf vir die skaap wat gekoop is, het een ’n rewolwer uitgehaal”.

Hy kon homself nie verdedig teen ses gewapende terroriste nie. Sy “oorgawe” was blykbaar die daad wat sy lewe gered het.

Die terroriste is met geld, twee rewolwers en ’n pistool in Van Heerden se Toyota Hilux-bakkie daar weg.

Die bakkie is later teruggevind. ’n Klag van huisroof word ondersoek.

’n Woordvoerder van Projek 2010 sê dat dit lagwekkend is om ’n klag van huisroof te ondersoek terwyl doodsdreigemente gemaak is en wapens gebruik is.