Ek sien dit so!

Die jaar lê op sy rug. Soos ‘n oogwink het hy opgekom, geblom, en eindelik doodgegaan.

Hierdie jaar sal in die annale van ons vryheidstryd onthou word vir ‘n paar groot gebeure. Dit is die jaar waarin ons mense opgeruk het na Delmas om vir die wêreld te wys ons is moeg vir die barbaarse moorde op ons mense. Dit is die jaar waarin ons eie e-koerant, Die Vryburger, die lig gesien het en steeds voortgaan om die waarheid uit te dra. In hierdie jaar is ons eie Radio Vryheid op die been gebring. Op hierdie stadium nog ‘n internetradiostasie, maar ek glo dat ons binnekort hierdie stasie oral sal kan opvang en geniet.

Onder leiding van die Boere-Afrikanervolksraad is ons vryheidseis afgelewer aan die ambassades van die VSA en Nederland. Ongelukkig ook onafgelewer aan die Duitse- en Franse ambassades weens versuim om ons eis te aanvaar.

Dit was inderdaad ‘n groot jaar vir diegene wat smag na vryheid. Net so sal 2013 ook ‘n groot jaar wees in die vryheidstryd. Neem hierdie laaste dae van 2012 om n ate dink oor watter rol jy gaan speel in 2013. Die tyd van langs die kantlyn sit is verby, ons is in die stryd van ons lewens gewikkel. Raak betrokke, deel in die oorwinnings, maar deel ook in die nederlae. Laat ons saam werk aan die verkryging van hierdie grootse begeerte, naamlik Vryheid! Om hierdie rubriek mee af te sluit vir 2012, het Neelsie dit goed gedink om ‘n skrywe te plaas van ‘n goeie vriend. Geniet dit!

Wie is ons en waarheen gaan ons?
Ons praat deesdae so baie van eenheid binne ons volk, ons praat van saamstaan vir vryheid en onafhanklikheid. Daar is egter iets wat soos die groot muur in China in ons pad staan…daardie iets is ons eie mense.

Dit is goed dat daar ‘n handvol mense is wat met hart en siel baklei en stry vir ‘n onafhanklike volk in ‘n vrye onafhanklike staat, maar net so vurig soos hierdie handvol vir sulke ideale stry is daar ‘n handvol aan die ander kant wat daardie ideale met alle mag teenstaan. Die hartseer feit is dat die ultra-linkse Afrikaners wat ons geskiedenis en dan eindelik ons volk haat, in ‘n stewige posisie verkeer, hulle het die Geldmag agter hulle. Dan is daar die deel van ons volk wat maar tog tevrede is om te gaan stem vir die DA of die VF+ of die ACDP want dit maak mos sin. “Jy kan tog nie wil redeneer dat jou stem nie ‘n verskil maak nie?” Wel, so sê hierdie mense, meeste van hulle weet eintlik maar bitter min van politiek en stel ook nie veel belang daarin om ons volk se bloedbevlekte geskiedenis so bietjie te gaan oplees nie. Hierdie mense is maar tevrede om te gaan stem vir dieselfde party as wat sy vriend of buurman stem. Daar is geen logiese denkprosesse voor hierdie groot besluite geneem word nie, altans nie by alle stemmers nie.

Daar is die kerke wat leliewit binne is en waar die sonde wat blykbaar apartheid was so lekker bespreek word. Hulle lees seker nooit Eksodus nie want die “arme” slegs swart motorwagte staan buite in die koue en pas hul voertuie op. Nogal teen vergoeding, en dit op die Sabbat. Ja, so kan mens aangaan oor die swakhede van ons volk.

Nou werk daardie handvol hard aan die daarstelling van ‘n Volksraad uit die volk en vir die volk. Die linkse Afrikaner wil nie sy rykdom wat hy in die nuwe SA gekry het verloor nie, dus staan hy hierdie poging teen. Die gemiddelde Afrikaner sal dalk nog registreer maar in baie gevalle net om weer deel van een of ander stroom te wees, en ook om knaende Registrasiebeamptes van hul nekke af te kry. Dinge gaan nog goed vir baie van hierdie mense, waarom wil hulle nou êrens in ‘n “verkrampte” volkstaat gaan sit? Laat ons nou maar eerlik wees met mekaar, die enigste ware eenheid binne ons volk is die eenheid tussen die deel van die volk wat waarlik vry WIL wees. Daar is ‘n groot verskil tussen die wil om vry te wees en die bereidwilligheid om vry te wees.

Weer ou Neelsie aan die woord. Baie dankie aan elke leser van Die Vryburger vir u ondersteuning. Dankie dat u kies om te lees wat hierdie handjievol vrywilligers skryf. Ja, soms tree ‘n spelfoutjie in, ons is immers net gewone mense wat hierdie groot taak in liefde vir ons eie uitvoer.

Kordaat Neelsie wens u elkeen ‘n vredevolle rustyd toe (indien u so bevoorreg is om te kan rus), ek wens u seën toe oor hierdie feesgety, my hoop is dat elkeen wat hier lees, in 2013 weer hier sal kan lees deur die genade van Hom wat alles in Sy hand hou.

Boeregroete,

Kordaat Neelsie