Ek sien dit so!

Ek sien dit so! Maar wat is dit wat ek sien? En hoe sien ek dit? Sien ander dit ook?

Wel, wat ek sien is ‘n land waarin ons mense koelbloedig vermoor word, ek sien volksgenote wat maak of hulle sien wat ek sien; ek sien ‘n volk wat om elke hoek en draai deur hul eie mense mislei word. Dit is wat ek sien, en ook sommer hoe ek dit sien.

Ou Neelsie is geen siener nie, hy sien eintlik maar net raak wat enige Boere-Afrikaner veronderstel is om raak te sien. Al wat nodig is, is ‘n kop wat nie in die sand begrawe is nie, ‘n tikkie intelligensie en ‘n wil om die waarheid te sien en te aanvaar. Daar is ‘n gesegde wat soos volg lui: Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie. Ja, ons almal ken daardie gesegde, maar Neelsie gaan julle wat dit glo se borreltjie bars. Dit is nie van toepassing op die situasie waarin ons onsself bevind nie.

Vriende, ons vyande loop soos brullende leeus tussen ons rond, hulle is altyd naby, as jy egter kies om hulle nie te sien nie, beteken dit nie dat hulle jou nie gaan verskeur nie. Inteendeel, hulle geheime wapen is die element van verrassing. As jy hulle dus sien voor hulle jou sien, het jy ‘n kans om die aanval te oorleef. Om voor te berei op die ergste, en die ergste tref jou nie, is beter as om te staan en lag vir diegene wat wel hulself voorberei op die ergste, en die ergste gebeur dan. Spyt soos die wyses sê, kom altyd te laat. Wat die oog toe nie gesien het nie, mag dalk veroorsaak dat hy nooit weer sien nie.

Moet asseblief nie onverhoeds betrap word nie, swaai die situasie om en betrap jou aanvallers onverhoeds, en dan trap jy sommer die hoed van sy kop ook af. Almal is besorg oor die renosters wat so uitgeroei word, ja dit is hartseer en hulle wat skuldig is aan hierdie barbaarse misdryf moet betaal vir hul oortredings. Wat dan van die Boere-Afrikanervolk? Wat van ons mense wat met strykysters, kookwater en sigaretstompies gemartel word? Wat van ons mense wat met klippe doodgegooi word? Wat van ons vroue en dogters wat wreedaardig verkrag word? Is dit aanvaarbaar? Is die lewe van ‘n dier meer werd as dié van jou volksgenote? Ag nee wragtie Afrikanervolk! Het jy werklik so pateties geraak dat die marteling en moorde op jou mense minder belangrik is as ‘n renoster?

Een…twee…drie…daar’s hy, Neelsie is weer rustig. Maar nooit so rustig dat die vyand hom sommerso onverhoeds gaan betrap nie! Asseblief vriende, raak kwaad vir Kordaat Neelsie omdat hy so op julle skree, neem dan daardie selfde woede en kanaliseer dit na selfvertroue, die selfvertroue om op te staan en terug te baklei wanneer jou vrou en kinders deur barbare aangeval word. Ons voorvaders het nie op hul knieë gesterf nie, hulle het baklei vir reg en geregtigheid. Laat ons hulle trots maak!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie