Drie ernstig beseer in skietvoorval deur boewe

’n Man is in albei bene geskiet en twee vroue is beseer tydens ’n gewapende rooftog in Riversquare-sentrum in Drie Riviere in die Vaaldriehoek.

Gewapende rowers het die Crown-juwelierswinkel beroof en met ’n onbekende aantal juwele op vlug geslaan.

Twee boewe was in die winkel, een buite die winkel en nog een by ’n uitgang.

Bilal Vorajee (37), die bestuurder van die Deli Delite-winkel, is in albei sy bene, onder die knie, geskiet.

Hy het die boewe agterna gesit en is toe geskiet.

Netcare 911 het Vorajee op die toneel behandel.

’n Vrou is in die skietery in die skouer getref. ’n Ander vrou is beseer toe koeëls deur ’n winkelvenster is en glasstukke teen haar gespat het.

Die polisie ondersoek glo die voorval.