Dragon Fruit / Pitaya, nog ’n onbekende vrug vir ons:

Hierdie plante het hul oorsprong in Suid-Oos Asië, Mexico, Suid Amerika en Israel. Hul word vandag ook in talle Asiatiese lande gekweek. Die plant is familie van die kaktusse. Die plant maak ook nie blare nie, het lang lote waaraan die blomme en vrugte verskyn. Die plante aard goed in vogtige of droë klimaat. Hy wil in goed gedreineerde sanderige grond geplant wees. Hy verkies son, maar moet soms skaduwee kry veral wanneer hulle begin bot.

Die plant se blom is groot wit/roomkleurig en blom in die nag en die blomme ruik heerlik soet en lok baie insekte soos bye vir bestuiwing. Hulle word daarom “koningin van die nag”, “maanblom” of “edel dame”, genoem. Hul vrugte verskyn 30 tot 35 dae na blomtyd. Die vrugte kom deesdae in 3 kleure voor. Twee soorte het ’n pienk skil met verskillende eetbare “vleis”, een het wit met baie pitjies en die ander een se “vleis” is rooi met die pitjies, en dan die 3de een is geel met wit “vleis”.

Die “Dragon Fruit” is ryk aan vitamien C, fosfate, kalsium, yster, vesel en anti-oksidante wat goed is vir diabetes, hoë bloeddruk en nog talle ander siektetoestande. Die vrugte kan van 150 gram tot 600 gram massa bereik, maar daar is al van hulle gekry wat 1 kg. weeg. Die vrug smaak so tussen ’n peer en ’n kiwivrug. Dit bevat ook baie water. Buiten dat hy vars geëet kan word, word hy ook gebruik vir die maak van konfyt, roomys, vrugtejellie, vrugtesap en ook ’n wyn. In Asiatiese lande word die botsels gebruik om kerrie te maak.

Geniet dan nou die heerlike vars vrugte uit u tuin!!