Australiese omroepers voel skuldig oor beweerde selfmoord

‘n Personeellid van die King Edward VII-hospitaal het vermoedelik selfmoord gepleeg na ‘n foproep vanaf twee omroepers.

Dit is die hospitaal waar die swanger hertogin Catherine van Cambridge, prins William se vrou, verlede week vir akute naarheid behandel is.

Die twee omroepers van die Australiese radiostasie 2-Day FM in Sydney het die hospitaal gebel en die stemme van die koningin en prins Charles nagemaak en navraag gedoen oor die welstand van die prinses. Jacintha Saldanha het die telefoon beantwoord en hulle deurgeskakel na ‘n kollega wat die prinses se toestand in volle besonderhede weergegee het. Die inligting het ‘n groot storm in die media veroorsaak.

Die hospitaal het Vrydag bevestig dat Jacintha Saldanha se lyk gevind is, maar weier om kommentaar te lewer oor beweringe dat dit selfmoord was.

Die omroepers het die naweek op ‘n Australiese TV-program gesê dat hulle gedink het dat die verpleegster sal agterkom dat dit nie die ware Jakob is nie en dan die foon sal neersit. Die foproep is vooraf opgeneem, maar die radiostasie se bestuur het besluit om die onderhoud uit te saai ten spyte van die private aard van die inligting. Hulle het ook gesê dat hulle baie sleg voel oor die gevolge van hulle grap.

Die koninklike familie het ook hulle innige meegevoel aan die hospitaalpersoneel en die familie van Saldanha gestuur.