Foutbal!

Wat gaan deesdae aan in Transvaal rugby se administrasie en raadsale? Hulle is pas deur ’n liederlike seisoen waar daar meer aksie af van die veld as op die veld was. Asof die Super rugby sirkus nie genoeg was nie, is dit nou nog ’n gedoente met die John Mitchell sage. Eers hoor ons hy is afgedank. Toe is hy nie afgedank nie, maar net geskors. Intussen word sy hulpafrigters toe maar afgedank. Daarna word verneem dat John ’n pos by Sale Sharks op Haar Majesteit se eilandjie aanvaar het. Kort daarna word daar deur John self gesê dis van alle waarheid ontbloot. Na ’n hele Curriebeker seisoen, vind die Transvaalse rugby unie uiteindelik hulle weg oop om die tugverhoor af te handel. Mitchell word onskuldig bevind en daar word aangekondig dat hy sy pos as afrigter terugkry.Kwalik ’n week verder, word uitgebasuin dat hy as afrigter bedank het en Johan Ackerman, die Curriebeker instaan-breier, sal voortaan die sweep klap. Mitchell is nou blykbaar as konsultant doenig terwyl hy ook by Sale sal kan gaan werk. Hierdie tipe bestuur herinner sterk aan munisipale bestuur in die Ruwe Suid-Afrika.

Die bokspring afrigter reken in die Grootste Afrikaanse Propaganda koerant dat hy in sy noppies is met die Springbokke na hulle Europese toer. Ek wonder of “noppies” deesdae dieselfde betekenis as vrek bekommerd het. Die jaareind toer was ’n geploeter van die een wedstryd na die volgende. Die reeks is afgeskop teen die Iere met ’n oorwinning van 12-16, wat alles behalwe oortuigend was. Volgende was die Skotte, wie se afrigter so pas bedank het nadat hulle die naweek teen Tonga vasgeval het met 15-21. Die benoude bokke kon beswaarlik beter as Tonga doen en het met slegs 10-21 gewen. Teen Engeland is menige draer van die groen trui se naels tot in die lewe in gekou. ’n Verbroude skop van die bleekbene het die springbokke met 15-16 laat wen. Alhoewel al die wedstryde oor die water gewen is, wonder ek hoe rustig slaap Meyer nou eintlik?

Wat gaan van die land se grootste boshokkie toernooi van die jaar word? Daar word verneem Cosatu se lede is ongelukkig omdat ou Sol se spulletjie daar by die Sonstad hulle glo geld skuld. Die ongelukkige werknemers wil nou betoog daar op die golf baan sodat geen wit bal die bosse ingefoeter kan word nie, totdat hulle deel van die miljoen dollar aan hulle uitbetaal word. Sol se mense aan die ander kant, erken dat daar geld teruggehou is, maar wil keer dat die toernooi ontwrig word. Met die hoeveelheid geld wat ter sprake is met uitsaairegte en al die buitelandse toeriste wat na die ou Bophuthatswana toe stroom om twaalf manne agter balle te sien aanloop, kan die sportliefhebbers seker verstaan waarom Sun International so keer vir hulle paaltjies. Miskien is die oplossing om die werkers maar net te betaal wat hulle geskuld word…