VIR DIE TUINIER – MONSTERS IN ONS TUINE GERAAMTEPLANT / MONSTERA DELICIOSA

Die geliefde geraamteplant is algemeen bekend aan ons en ons vind dit in menige tuin. Hierdie monster behoort ook aan die aronskelk-familie en is ’n rankplant. Dit kom oorspronklik uit die tropiese reënwoude van Mexico. Hulle was oorspronklik gekweek en verkoop vir binnenshuis, maar groei buite in ons tuine onder skadubome net so pragtig indien nie mooier nie. Hul is gevoelig vir koue en ryp en verkies ’n warm vogtige klimaat.
Hierdie plant het lang harde wortels wat op die stam van die hele plant verskyn. Hierdie wortels was gebruik vir toue in Peru en in Mexico was dit gebruik om mandjies mee te vleg. In Mexico gebruik hul die blare en wortels om te drink vir die verligting van artritis. Die wortels word ook gebruik om op slangbyt wonde te smeer.
Sommige van die plantblare lyk of dit gesnipper is en ander het gate in hul blare. Daar is natuurlik ook verskillende plante met groter of kleiner blare. Die plante word gekenmerk deur hul unieke blomstruktuur wat bestaan uit ’n staafagtige bloeikolf wat dan deur ’n bloeiskede omring word. Die sappige vrug wat binne-in hierdie blom vorm, kan geëet word wanneer dit ryp is en het pynappelvormige vleis en smaak nogal merkwaardig na die pynappel.

Geniet u tuin hierdie week wat voorlê