VIR DIE TUINIER – KALADIUMS

Hierdie pragtige plante is van die kleurvolste plante wat uitsluitlik vir hul sierlike loof gekweek word. Hulle behoort aan die Olifantsoor- en Aronskelkfamilie . Daar is meer as 1000 verskillende hibriede. Hulle oorsprong is van Brasilië en ander streke van Suid- en Sentraal Amerika. Gedurende Augustus maande, word daar ’n groot fees by Lake Placid in Florida gehou waar die grootste deel van die wêreld se oes in oop lande gekweek word.
Kaladiums groei die beste in gedeeltelike skadu. Van die kultivars is meer bestand teen son as ander. Die plante met pienk loof is geneig om bruin te verkleur as dit aan te veel sonlig blootgestel word. Kaladiums is ook gevoelig vir ryp. Hul verkies ’n subtropiese klimaat. In die algemeen word Kaladiums as potplante by kwekerye verkoop.
Plant hulle in die lente in goed gedreineerde ryk grond. Hulle groei ook baie goed in potte en kan binnenshuis gehou word. Buite in die tuin vertoon hulle treffend wanneer geplant in massas en verskillende kleur groeperings bymekaar.
Die blare begin hang en gaan dood in die herfs. Die knolle kan dan uitgehaal word en laat hulle ’n week lank uitdroog en sny dan die blare af en bêre die knolle vir plant in die lente.

Geniet die somer tuinmaak tot volgende keer.