Verlustig jou in jou somer-lushof

Verlustig jou aan die kleurespel in jou somertuin. Jou pragrose behoort nou met hulle tweede drag te spog, terwyl jou bolplante nou moet begin om hulle deel by te dra tot die kleureprag in jou tuin. Krismisrose en Agapanthus staan in volle blom en Fuchsias betower jou met hulle skoonheid.

Nou is die ideale tyd om jou plante goed te bemes – veral noudat ons darem so af en toe ‘n reënbui kry. Plante groei op hulle vinnigste en dit is of die hele natuur saamwerk na ‘n hoogtepunt van kleur. Die werk wat nou gedoen moet word, sluit onderhoud en voorbereiding in sodat daar in Desember die minimum gedoen word. Dit is tyd om genoeg kleur te plant vir ‘n vrolike Kersfees.

Kyk uit vir wit en rooi blomme vir die feesseisoen wat voorlê. Petunias en rooi Kannas is ideaal vir die geleentheid. Koop plante wat tawwe-tienies is en by alle klimate en groei-omstandighede aanpas. Hierdie plante het nie baie pamperlang en ekstra kos nodig nie.

Onthou om altyd goed na die etiket te kyk as jy nuwe plante aankoop. Al die belangrike en nuttige inligting kom hier voor en sodoende sal jy weet dat jy jou plante reg versorg. Dit is beslis nie te laat om te plant vir Desember nie. Daar is so baie blomme wat vinnig genoeg groei. Plant die blomme sommer in bondeltjies bymekaar of, as jy genoeg geduld het, plant hulle in formasies.

As jy Desember tuis gaan vakansie hou, kan jy nou jou beplanning regkry om die ekstra tyd te kan benut om plante deeglik met organiese bemesting te voed en ouer blomme uit te knip sodat meer knoppe kan vorm. En as jy weggaan, tref nou al die nodige voorsorg dat jou lushof nie sal verwaarloos nie. Tref ook nou al reëlings vir die versorging van jou troeteldiere!

Plant van die maand: Kannas. Dis ideale blomme vir jou Kerstafel. Die Kerstyd is op ons!