Soweto is die vlieg in die salf

Slegs 20% van die totale kragverbruik in Soweto word uiteindelik betaal. Die res kom klaarblyklik uit die sakke van die gereelde en pligsgetroue betalers wat telkens ook die verhoogde tariewe moet absorbeer. Die kragdiefstal is so hoog dat daar nou spesiale maatreëls oorweeg gaan word om die probleem aan te spreek.

Tans is die diefstal in Soweto so erg dat dit beraam word op 50% van die totale kragdiefstal

Dié syfers is tydens die voorlegging van Eskom se tussentydse resultate in Johannesburg bekend gemaak. Eskom lewer direk krag aan sowat 4,8 miljoen verbruikers in Soweto.

Brian Dames, uitvoerende hoof, soek nou “’n permanente oplossing vir Soweto” en het met sy direksie en die regering daaroor in gesprek getree.

’n Voormalige senior werknemer van Eskom het aan Die Vryburger gesê dat die direkte verskaffing van krag aan Soweto een van die ernstige probleme is. Dit gee soveel meer geleentheid om nie te betaal nie, en om op onwettige wyse krag te bekom aangesien Eskom nie oor die infrastruktuur beskik om sulke oortreders vas te vat nie.

Dit is egter nie net Soweto nie, maar elke swart woongebied in die land bevat hierdie element van krag diewe waarvoor ander wat eerlik is, moet betaal. Dit verklaar ook waarom die tariewe astronomies styg, het hy gesê.