Skotland wil wegbreek.

Skotland se plek in die Verenigde Koninkryk is tans die grootste kwessie in Britse politiek en ‘n groot kommer oor Europa. Verlede maand het die Britse Premier, David Cameron en Alex Salmond, leier van Scottish First ‘n ooreenkoms geteken wat Skotland sal toelaat om ‘n referendum oor hulle onafhanklikheid in 2014 te hou.

Vir meer as ‘n dekade beskik die Skotte oor ‘n eie parlement, maar die referendum sal hulle ‘n geleentheid bied om hulle eie nasiestaat te stig. Dit is die doel van die meerderheidsfaksie in die Skotse Parlement. Die Skotse Nasionale Party het onafhanklikheid deurgaands as einddoel gehandhaaf.

Terwyl Europa ‘n groot fiskale krisis in die gesig staar en daar oproepe uit Brittanje is om die rug op die Europese Unie te keer, word hierdie stap van Skotland as gevaarlik beskou. Europa wil eenheid behou en is afkeurend teenoor enige land wat wegbreek.

Sesessiebewegings was tot dusver slegs gesien as die laaste opsie vir onderdrukte etniese minderhede. Die Skotse beweging egter is die eerste in ‘n nuwe vlaag van soeke na onafhanklikheid in Europa se stal van stabiele demokrasië van Spanje tot in België.

Skotland en Engeland se koninklike huise is in 1603 verenig; die twee lande se parlemente het in 1707 saamgesmelt. In 1998 is die Skotse Parlement heringestel wat die Skotte meer beheer oor munisipalitiete asook belastings gegee het.

In hulle eis vir onafhanklikheid het die Skotse nasionaliste met ‘n nuwe en oorspronklike gedagte na vore gekom. Hulle het hulle gladnie op die gewone historiese of minderheidsregte beroep nie, maar die volgende argument aangebied, nl: dat die mense van Skotland ‘n eie politiese en sosiale waardesisteem aanhang wat onversoenbaar is met die inwoners van Engeland, Wallis en Noord-Ierland. ‘n Voorkeur vir sosiaal-demokratiese ideale soos gratis hoër opleiding, goeie pensioene asook ‘n pan-Europese uitkyk op buitelandse- en verdedigingsbeleid, onderskei Skotte van die ander Britte,” het ‘n woordvoerder van die SNP gesê.

Mnr. Cameron het reeds gesê dat hy by die uitslag van die referendum sal berus. Die referendum sal slegs oor onafhanklikheid gaan en die stemouderdom sal na 16 verminder word.