Sanksies kos Iran $109 miljoen per dag

Westerse sanksies het tot gevolg dat Iran elke dag meer as $109 miljoen se verlies ervaar. Dit is meer as $2,5 miljard per maand.

Die sanksies word toegepas weens Iran se weiering om sy kernontwikkeling te laat vaar. Die land se president Ahmadinejad hou vol dat sy land slegs beplan om eie elektrisiteit op te wek, terwyl daar vermoed word dat dit sy eintlike doel is om kernwapens te onwikkel. Die land het ook ‘n uitgesproke houding dat Israel nie ‘n bestaansreg het nie.

Volgens ‘n verslag van die Internasionale Energie Agenskap het Iran se olie-uitvoere die afgelope jaar met eenmiljoen vate per dag afgeneem tot ongeveer 1,3 miljoen. Voorheen was Iran die tweede grootste olie produsent, maar het nou gedaal tot die vierde posisie. Die olievelde raak al hoe meer vervalle weens ‘n gebrek aan opknapping en ondersteuning van buitelandse beleggers.

Die land se begroting toon ‘n daling van 30%, ingevoerde produkte op die winkelrakke raak skaarser en die regering het ook subsidies op lewensmiddele ingekort. Die moeiliker tye maak dat die regering al hoe meer ongewild raak onder sy inwoners.

Volgens kenners sal dit die land jare neem om ekonomies te herstel nadat die sanksies opgehef sou word.