SA se nadelige handelsbalans groei

Die jongste syfers, wat vir September vrygestel is, toon dat Suid-Afrika se negatiewe handelsbalans vir die maand op R13,8-miljard gestaan het teenoor Augustus se R12,2-miljard. Dié ongunstige syfer was te wagte weens die voortslepende myn- en ander stakings wat al in Augustus begin het, maar dit is groter as die R10-miljard wat in die vooruitsig gestel is.

In September 2011 het Suid-Afrika ‘n positiewe balans van R2,5-miljard getoon. Uitvoere het op ‘n maand-tot-maand basis met 7,7% tot R56,7-miljard afgeneem, terwyl invoere met 4,2% tot R70,5% verlaag het.

Die opgelope nadelige handelsbalans vir die jaar staan reeds op R86,1-miljard, wat swak vergelyk met die surplus van R5,8-miljard vir die ooreenstemmende tydperk in die vorige jaar.

Die lopende rekening, as persentasie van die Bruto Binnelandse Produk (BBP), staan op 6,4% teenoor die 3,3% vir die vorige jaar.

Die wêreldekonomie se verswakking benadeel die land se uitvoere en dit word verder afgetrek deur die stakings op ‘n tydstip wanneer die landsekonomie dit die minste kan bekostig. Die tekort moet met geld finansier word wat vanaf die buiteland plaaslik belê word of dit moet geleen word. Die stakings en politieke onsekerheid in die land is teenproduktief vir albei opsies en het reeds tot gevolg gehad dat die land se kredietgradering afwaarts aangepas is.