Renosters met pangas gekap

‘n Boer in die Wes-Transvaal is “ongelooflik verpletter” nadat sewe van sy renosters geskiet, onthoring en met pangas gekap is.

Dié slagting op die Klipkopspruit wildsplaas naby Rustenburg is die jongste geval van renosterstropery in Suid-Afrika.

Die plaaseienaar, Mark Lappeman, het gesê sy seun het verlede week ‘n renosterkalfie teëgekom wat moederloos rondloop. Hulle het ‘n helikopter gehuur en drie dooie renosters Saterdag in die bos ontdek. Sowat honderd meter verder is nog vier dooie renosters gevind. Onder die verminkte karkasse was dié van ‘n vyf maande oue kalfie wat langs sy ma gelê het.

Lappeman het gesê sommige van die dooie renosters se oë was uitgesteek, ander se ore is afgesny, terwyl een van die koeie se geslagsdele ook uitgesny is. Almal is met panga’s gekap. Hy beskryf die geval as ‘n bloedbad: “Hulle het gewere en panga’s gebruik en hulle het geweet wat hulle wil hê. Ek is absoluut verpletter.”

Lappeman het die renosters van die Natalse Parkeraad ontvang en sommige van hulle was al vir 20 jaar in sy besit.

Die wees kalf wat die eerste dag gevind is, is verdoof en na ‘n veilige plek geneem vir rehabilitasie.

Meer as 550 renosters is vanjaar gestroop – ver meer as verlede jaar se tol van meer as 440 en die 333 in 2010.