Orkaan Sandy tref Kanada

Die natuur het Kanada die afgelope week goed laat les opsê. Die ooskus van Kanada is getref deur Orkaan Sandy, dieselfde orkaan wat die ooskus van die VSA verwoes het. Sy het ook suidelike Ontario getref.

Toronto is die seerste gemaak met windspoed van tot 100 kilometer per uur en 30 tot 40 mm reën. Die noord-oostelike Atlantiese provinsies kan baie meer reën verwag – sowat 50 mm – wat dan ook in sneeu gaan verander in Quebec.

Op die Huron-meer in Ontario word golwe van tot 7 meter hoog verwag. Meer as ‘n honderdduisend mense in die Toronto-gebied is sonder elektrisiteit en ‘n vrou is dood nadat rommel wat die wind rondgewaai het haar getref het.

Die weskus van Kanada het ook nie vrygespring nie. In Brits-Colombia het ‘n aardbewing wat 7,7 op die Richterskaal geregistreer het, die Haida Gwaii-eilande Saterdag geskud. Verslae is ontvang dat die aardbewing drie getygolwe veroorsaak het wat die Haida Gwaii getref het en dat die golwe ook op pad is na die laagliggende gebiede van die Hawaii-eilande.

Die golwe het nie skade veroorsaak nie, maar daar was kragonderbrekings. Nooddienste staan gereed en nooddiensplanne is opgestel.

‘n Tweede aardbewing van 6,2 op die Richterskaal met ‘n diepte van 10 kilometer, het dieselfde gebied Maandagoggend getref. Hierdie tweede aardbewing het geen golwe veroorsaak nie. Die provinsie, Alberta, gaan rustig voort in ‘n ysige vroeë winter.

(berig deur Die Vryburger se spesiale korrespondent in Kanada)