Orkaan ontwrig VSA se verkiesingstryd

Terwyl duisende mense uit laagliggende gebiede aan die VSA se ooskus ontruim is, lyk dit of orkaan Sandy ook die Amerikaanse presidentskandidate kortwiek in die veldtog.

Barack Obama en sy Republikeinse teenstander in die verkiesing, Mitt Romney, moes reisplanne vir die verkiesingsveldtog aanpas. Die invloed van die orkaan kan nog nie bepaal word nie, maar die eerste tekens is dat dit nie so ’n erge verwoesting sal veroorsaak as wat aanvanklik gemeen is nie.

Die storm kan egter chaos in die verkiesingsveldtog veroorsaak. Gevolglik het Obama na Florida vertrek, waar hy saam met oudpres Bill Clinton sal optree.

Sy reëlings vir geleenthede in Virginië, Ohio en Colorado moes uitgestel word omdat hy sake wat met die storm verband hou vanuit die Withuis moet bestuur.

Mitt Romney het ook sy besoek na Virginië gekanselleer en het koers gevat na Ohio, wat ook ‘n belangrike invloed op die verkiesingsuitslae kan hê.