Opname: Meer as die helfte van jong, blanke Suid-Afrikaners wil emigreer

‘n Onlangse opname wat deur die marknavorsingsmaatskappy Pondering Panda gedoen is, wys dat die aantal jong Suid-Afrikaners wat wil emigreer steeds toeneem. Die maatskappy het gesê dat die totale persentasie jongmense wat die land wou verlaat vanaf 25% drie maande gelede tot 36% in November gestyg het.

Sowat 56% van blankes het hul begeerte uitgespreek om te emigreer. Hierdie persentasie is heelwat hoër as die 43% kleurlinge en 33% swartes wat ook landuit wil vlug.

Pondering Panda se woordvoerder het Woensdag gesê dat sowat 2600 respondente tussen die ouderdomme van 18 en 34 aan die opname deelgeneem het. Die opname is gedoen om uit te vind of hierdie jongmense steeds in Suid-Afrika sal wil woon of eerder in ‘n ander land ‘n bestaan wil maak. Die opname is met behulp van selfone tussen 9 en 11 November gedoen.