Nuusflitse

• Lande wat aan die internasionale polisie-agentskap Interpol behoort, het Donderdag in Rome vir Me. Mireille Ballestrazzi van Frankryk gestem om die agentskap vir die volgende vier jaar te lei. Dié 58-jarige dame is die eerste vrou wat gekies is om die agentskap, wat in Lyon, Frankryk, gebaseer is, te lei. Sy was voorheen die Europese Kommissie se vise-president vir Interpol..
• Pablo Picasso se olieverfskildery van sy minnares en muse, Marie-Therese Walter, het vir $41,5 miljoen (sowat R360 miljoen) in Manhattan, New York, verkoop.
• Kunswerke ter waarde van meer as R15 miljoen is uit die Pretoriase kunsmuseum in Arcadia gesteel, het die polisie gesê. Drie gewapende mans het glo ‘n lys gehad van die werke wat gesteel moet word.
• HTC, Taiwan se leidende slimfoon vervaardiger en een van die grootste selfoonvervaardigers in die wêreld, het gesê hy het ‘n wêreldwye skikking met die tegnologiereus Apple bereik, wat ‘n einde bring aan die regstryd tussen dié twee maatskappye.
• Die aangenome seun van ‘n dominee van Harrismith wat verlede week aangeval is, en ‘n medepligtige sal Maandag weens sy moord in die hof verskyn. Ds. Willem Brits en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, is verlede week in sy pastorie vermoor en sy vrou, Dorothea, is erg aangerand. Die eerste verdagte is Donderdagaand aangekeer en die dominee se aangenome seun, Martin, is kort daarna in hegtenis geneem.
• Minstens 26 Keniaanse polisielede is in die noorde van die land, wat ’n besonder afgeleë gebied is, dood ná hulle in ‘n lokval gelei is.
• ’n Duitse toeris is in ’n nagtelike reddingspoging met ’n lugmag helikopter van ’n rotslys by Waterfall Bluff in die Transkei gered nadat hy sowat 30 m by ’n krans afgeval het.
• Duisende mense stroom na die noorde van Australië om na ‘n seldsame sonsverduistering te kyk, het toeroperateurs gesê.
• Die FBI en die CIA gaan top-politici inlig oor hul ondersoek na ‘n verhouding wat tot die hoof van die CIA se bedanking gelei het. Die vrees bestaan dat daar ernstige en belangrike inligting gelek is..
• Die jaarlikse tariefverhoging van 16% vir die volgende vyf jaar is onafwendbaar, sê Malusi Gigaba, minister van Openbare Ondernemings.
• Die Amerikaanse TV-sielkundige dr. Phil McGraw en sy vrou, Robin, se huwelik is glo op die rotse, berig ‘n Amerikaanse koerant.
• Die bekende sagteware-entrepreneur John McAfee, skepper van die alombekende McAfee-sagteware is die hoof verdagte in ‘n moord in Belize.
• Een van die twee aanloopbane op die OR Tambo-lughawe aan die Oos-Rand is gesluit nadat ‘n band van ‘n vliegtuig Dinsdag aan die brand geslaan het toe dit besig was om na Malawi te vertrek.
• Die openbare beskermer is versoek om die geldigheid te ondersoek van padversperrings van die Johannesburgse metropolisie waar motoriste glo gedwing word om Aarto-boetes te betaal.