Nuusflitse

• Die polisie het wapens langs die lyke van Marikana-mynwerkers wat hulle doodgeskiet het geplant, en ander soos in ’n teregstelling doodgeskiet, is gister voor die Farlam-kommissie van ondersoek beweer.
• Die 16-jarige seun wat van die Griekwastad-moorde aangekla is, het nooit die kans aangegryp om te sê hy is onskuldig nie. So het die staat aangevoer in sy appèlaansoek teen die vrylating van die tiener wat aangekla word van die moorde op Deon en Christel Steenkamp van die plaas Naauwhoek en hulle dogter, Marthella (14), op Goeie Vrydag. Volgens die staat kan die seun moontlik ’n gevaar vir ander wees.
• Die sangeres, Helenè Bester (36), is in ’n kritieke, maar stabiele toestand in die hospitaal nadat sy haar baba weens geboortekomplikasies verloor het.
• Al die belangrikste banke spring nou in om passasiers van die bankrot 1time-lugdiens se betalings vir kaartjies te probeer stop.
• Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het nie met die metropolisie of polisie vergader oor haar man se arrestasie nie omdat sy nie wil hê haar optrede moet as politieke inmenging beskou word nie.
• Familielede en omstanders het toegekyk hoe ‘n tweejarige seuntjie deur ’n trop wildehonde verskeur word nadat hy in dié diere se kamp in die Pittsburgh-dieretuin geval het.
• Om prysvergelyking uit te skakel, staan First National Bank (FNB) ¬sedert 22 Oktober geen huislenings meer toe aan aansoekers wat nie kliënte van dié bank is nie. Om nou vir ’n huislening by FNB in aanmerking te kom, moet ’n tjekrekening by die bank geopen word.
• Die Suid-Koreaanse motorgroepe, Hyundai, en sy filiaal Kia, is onder skoot nadat die maatskappye moes erken hulle was verkeerd oor hulle voertuie se brandstofdoeltreffendheid. Hyundai en Kia het om verskoning gevra en gesê die eienaars van 900 000 voertuie sal vergoed word vir die verskil in brandstofverbruik.
• Die Lotus-jaer en voormalige wêreldkampioen, Kimi Raikkonen, het die Formule Een-wedren op die Yas Marina-baan in Abu Dhabi gewen.
• Die ANC se president, Jacob Zuma, en sy familielede sal 200 m ver deur ondergrondse tonnels by sy Nkandla-huis in KwaZulu-Natal kan vlug as hulle veiligheid ooit bedreig word.
• Die voormalige eiendomsbaas, Wendy Machanik, is ‘n boete van R1,5-miljoen opgelê nadat sy skuldig gepleit het op 90 aanklagte van diefstal. Die pleit- en vonnisooreenkoms is in die gespesialiseerde hof vir handelsmisdaad in Johannesburg gemaak.
• Zac Vawter, ‘n man wat een van sy bene in ‘n motorfietsongeluk verloor het, het geskiedenis gemaak toe hy met behulp van ‘n bioniese been wat deur sy brein beheer word, al die trappe van die Willis-toring in Chicago, met sy 103 vloere, geklim het.
• Die VSA het Laos se regering Maandag gemaan om versigtig te wees met planne om ‘n dam van miljarde dollar te bou, omdat die impak wat so ‘n projek op die gebied kan hê, nog onbekend is. Die omstrede hidro-elektrisiteitprojek by Xayaburi, wat $3,8-miljard (sowat R33-miljard) sal kos, het groot onmin veroorsaak tussen Laos, Viëtnam, Kambodja en Thailand. Al dié lande maak op die rivierstelsel staat wat dié dam sal moet voed.