Motorrubriek – veteraanmotors

Verlede keer het ons vertel hoe die eerste drie lae verf aangebring is op ‘n voertuig wat gespuitverf word. Nou kan die die vierde laag opgespuit word.
(Meer lae kan opgespuit word, maar dit is elke motorgeesdriftige se eie keuse.)
Dit word aanbeveel dat 10% meer verdunner by die verf vir die vierde laag gemeng word. Dit sal tot ’n gladder afwerking lei.
Dieselfde opspuitproses as vir die eerste drie lae moet gevolg word, in die sin van dat hierdie laag ook oordwars oor die derde laag opgespuit moet word. Spuit weer met lang, egalige hale en die een haal moet die vorige haal oorvleuel. Sodoende gaan u ’n mooi egalige afwerking verkry.
Omdat die verfmengsel nou dunner is as gevolg van meer verdunner, is die kans dat die verf kan vloei groter en u moet dus oplettend en versigtig wees tydens die verfproses.
Na die vierde laag moet daar weer ongeveer twee dae verloop voordat daar aan die oppervlakte gewerk kan word vir die finale afwerking en die poleerproses wat dan gaan volg.
Vir die beste resultate word 1 500 graad waterskuurpapier gebruik vir die afwerking. Die skuurproses moet met lang, egalige hale gedoen word en daar moet opgelet word dat die verf nie op die hoeke en riwwe deurgeskuur word nie. Dit kan maklik gebeur. Aan die einde van hierdie skuurproses moet die oppervlakte ’n dowwe en gladde struktuur vertoon.
Die poleerproses is ’n proses op sy eie. Dit kan met die hand of met ’n laespoed-poleermasjien gedoen word. Wanneer dit met ’n masjien gedoen word, moet dit met die nodige sorg hanteer word om te verseker dat die verf nie beskadig word nie. Die oppervlakte wat gepoleer word, moet deurentyd nat gehou word.
Daar word uitgesien na die finale produk!