Miltsiekte in Kruger Wildtuin maai onder wild

‘n Ernstige uitbraak van miltsiekte het byna 50% van die skaars bastergemsbok bevolking in die Kruger Nasionale Park uitgewis. Talle seekoeie het ook al as gevolg van hierdie hoogs aansteeklike siekte omgekom.

SA Nasionale Parke het hierdie week bevestig dat sowat 30 seekoeie al oor die afgelope twee weke in die Letaba??- en Olifantsriviere dood gevind is. Resultate van nadoodse ondersoeke het gedui daarop dat hulle besmet is met die bakterieë wat miltsiekte veroorsaak.

Edna Molewa, minister van Omgewingsake, het eers twee weke gelede die aap uit die mou gelaat dat die meeste van die Kruger Nasionale Park se bastergemsbokke al gedurende Augustus in ‘n broeihok deur hierdie siekte uitgewis is. Sowat 45 bastergemsbokke het in die Capricorn teelhok gesterf, wat beteken dat daar slegs 13 oorlewendes in hierdie kamp oorbly. Daar word beraam dat daar nog tussen 40 en 50 vrylopende bastergemsbokke in die park en nog 35 lewendig in ‘n ander teelhok oor is.

Volgens SAN Parke het die miltsiekte al aan die einde van Augustus uitgebreek. Besoekers is daarna aangemoedig om enige dooie seekoeie aan te meld by die naaste kamp.

Miltsiekte word hoofsaaklik deur brommers en aasvoëls versprei. Aasvoëls is immuun teen miltsiekte en hulle versprei die siekte nadat hulle besmette vleis geëet het deur in die water waar hulle drink ontlas.

Sowat 2 000 diere het gesterf tydens die vorige uitbraak van miltsiekte in 2010.