Megan kry ’n nuwe “been”

Megan Croucamp het nou ’n pienk hardloop “been” met donkerpienk blomme.

Die been, wat veel ligter is as die vorige kunsbeen wat sy gekry het, sal haar help om makliker en vinniger te hardloop.

Die Paralimpiese atleet Arno Fourie het die lem gister vir Megan (8) gegee. Hy het haar ook gehelp om dit aan te sit.

Daarna het Arno ’’n entjie saam met haar geloop.

“Hy buig maklik en is gemaklik,” het sy vreugdevol gesê.

Fourie is nou ’’n heldefiguur vir die minder bevoorregte kinders wat gehelp word deur Jumping Kids, wat kunsledemate gratis aan arm kinders voorsien.

Hy het daarop gewys dat fisieke gestremdheid nie die einde van die wêreld is nie.