MAJUBA-BOEREVOLKTRUST

Ons neem graag die vrymoedigheid om aan u hierdie skrywe ten aansien van die Majuba Berg- en Gedenkterrein te rig. Hierdie alombekende veldslag waar Boer en Brit die laaste veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog gevoer het, is vandag ’n baken in ons volk se geskiedenis en spreek van ons verbintenis tot ’n toekoms waar ons as volksgenote weer in vryheid mag leef.

Die Majuba-terrein wat die veldslag bo-op die Majuba-berg insluit en naby Volksrust, Natal in die uitlopers van die Drakensberge geleë is leen hom daartoe om in ’n verskeidenheid van ons volksgenote se behoeftes te voldoen. Op die terrein aan die voet van die berg is daar ’n kamp area met ablusie-geriewe, ’n jeugherberg vir slaapplek vir ongeveer 70 kinders en/of volwassenes, ’n saal asook die Ossewa-Brandwag Museum. Daar is ’n paar woonstelle wat ook afsonderlik gebruik kan word. ’n Voltydse opsigter is op die terrein inwonend. Die geriewe op Majuba is teen uiters billike tariewe vir volksgenote beskikbaar en is geskik vir familie- en vriende saamtrekke, kerk- en ander jeugaksies of bloot as ’n ontspannende wegbreek geleentheid. Die blote prag-uitsig vanaf die berg en wat strek oor Natal, die Vrystaat en ook Transvaal is ’n belewenis genoeg dat ieder en elk dit nie wil misloop nie.

Die terrein word in die geheel deur die Majuba Boerevolk Trust bestuur en in die gees van die tye ontvang die gemelde Trust geen fondse of ander ondersteuning vanaf die staat nie. Nieteenstaande die uitdagings wat die Trust in die bestuur van hierdie besondere terrein die hoof moet bied is dit deurgaans ons doel om Majuba as monument en erfenis vir ons nageslag te bewaar. Die begunstigdes van die Trust is ons volk en vorm u ook deel daarvan. Dit is vêrder ons voorneme en is ons ook in die proses om die geriewe op Majuba uit te bou en te verbeter.

Vir u kennisname meld ons ook dat daar op ’n jaarlikse basis ’n Majuba-fees op die laaste naweek in Februarie op Majuba gehou word en waarheen etlike honderde volksgenote opruk. Dieselfde sal in 2013 geskied en beloof die komende fees om een van ons grootstes nog te wees. Met avontuur en pret vir die jongspan en kulturele volkstrots en herdenking in dankbaarheid vir ons vryheid op Majuba verkry is die Majuba-fees ’n treffer geleentheid op talle se kalender en wat nie misgeloop mag word nie. Die Majuba-fees vir 2013 word deur die Boere-Afrikaner Volksraad aangebied.

In die uitdagende tye waarin ons volk homself vandag bevind kan die belangrikheid daarvan om ons volksgeskiedkundige terreine vir ons nageslag te bewaar nie oorbeklemtoon word nie. Wat Majuba ook soveel te meer van belang maak is dat Majuba die boodskap van vryheid ook in ons tyd uitdra en ons opnuut tot ons volk se regmatige saak verbind. U ondersteuning om van Majuba ’n juweel van ons volksbesit te maak word opreg waardeer en sal ook bydrae dat ons soveel te meer met selfrespek en trots op ons eie die wêreld in die oë sal kan kyk.

Ons nooi u dan ook graag uit om in ondersteuning van hierdie pragtige saak van Majuba se geriewe gebruik te maak. In hierdie verband kan u ter enige tyd met ons plaasbestuurder te 017 735 1962 skakel. Sou u enige verdere navrae ten aansien van Majuba hê en ook graag ’n bydrae tot hierdie grootse monument wil maak is u welkom om in die verband met ons by [email protected] te skakel. Enige navrae ten opsigte van die Majuba-fees vir 2013 kan aan Ben Geldenhuys by 083 309 1300 gerig word.

Ons vertrou dat u saam met ons van Majuba as gedenkterrein ’n groot sukses sal maak