Kataloniërs vorder op vryheidspad

Kataloniërs is ‘n stap nader aan hulle afstigtingsideaal nadat hulle ‘n pro-sesessie meerderheid in die afgelope verkiesing ingestem het.

Pro-onafhanklikheids partye het as duidelike wenners uit die stryd getree en beheer nou 60% van die Kataloniese Parlement. Die Kataloniese President, Artur Mas, ‘n leidende figuur agter die pro-sesessie stroom in die streek, sal egter genoodsaak wees om ‘n koalisie regering te vorm.

Mas het ‘n vervroegde verkiesing aangekondig nadat sy pogings om beter federale belastings vir Katalonië te beding deur die Spaanse Eerste Minister Mariano Rajoy verwerp is. Mas sal waarskynlik nou voortgaan met die beloofde referendum oor onafhanklikheid van Spanje wat hy en sy volgelinge as ‘n oplossing sien om nie in Spanje se finansiële worsteling verstrengel te raak nie.

Katalonië betaal 16 biljoen euro meer per jaar aan belasting as wat hulle van die sentrale regering terug ontvang. Gevolglik noodsaak dit die provinsie om op welsynswerke, opvoeding en infra-struktuur te besnoei.