Kaartjies nog beskikbaar vir ruimtereise

Die bekende biljoener van die Virgin Atlantic lugdiens, Richard Branson, is nog volstoom besig met sy voornemende ruimte lugdiens, bekend as Virgin Galactic.

Die eerste fase van die ontwikkeling en struktuering is reeds suksesvol afgehandel met die aanstelling van ‘n bekwame werkerskorps en samevoeging van maatskappye wat ‘n bydrae kan lewer vir die verdere ontplooiïng van die groep.

Daar het reeds ‘n redelike hoeveelheid welgestelde persone besprekings gedoen om as passasiers die ongelooflike ervaring mee te maak. Die aanvanklike ruimtevlugte sal die passasiers tot buite die aarde se atmosfeer neem waar gewigloosheid ervaar kan word tesame met ‘n uitsig na die buitenste ruimte en die aarde.

Dit word beplan dat die nuwe wentelbaan loodsingsvaartuig teen 2016 gereed sal wees om met reise te begin. Daar word ook steeds daaraan gewerk om die vlugte meer bekostigbaar te maak. Daar word ook beplan dat toekomstige vlugte nie net in die ruimte bokant die aarde sal wentel nie, maar dat daar selfs verder gereis sal word na byvoorbeeld die maan en selfs verder.